Sosiale Skakels

Besoekers

We have 7 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Preke

Preke (201)

 

SKRIFLESING: 2  PETRUS 1:3 - 11

2  PETRUS 1:5 – 7

GELOOF WAT WERK, HET ‘N POSITIEWE INGESTELDHEID.

 

Duisende atlete  hardloop jaarliks die Comrades Maraton.  Om aan die strawwe wedloop deel te neem, moet  ʼn mens aan sekere vereistes voldoen. Benewens die feit  dat jy fiks moet wees en 'n paar ander marathons moes voltooi het, verg dit van jou dat jy  ʼn bepaalde ingesteldheid sal openbaar. Hierdie ingesteldheid het veral met dinge soos selfbeheersing en volharding te doen.  Iemand wat nie in staat is om hom- of haarself te beheer nie, sal nooit die Comrades kan voltooi nie. Dieselfde geld vir volharding. Net diegene wat werklik in staat is om te volhard, sien die eindstreep.

In die Bybel vergelyk die Here juis ook ons geloofspad ook met  ʼn maraton.  As gelowiges moet ons, net soos atlete in  ʼn maraton, kan uithou en aanhou.  Daarom sê die apostel Paulus byvoorbeeld aan die einde van sy lewe:  Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou.  Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God (2Tim 4:7).

Om, soos Paulus, by daardie punt te kom, moes jy eers  ʼn lang en uitputtende wedloop aflê.  Om die wenstreep te bereik en die prys te kry, is wonderlik, maar dit gaan mos eintlik oor die wedloop. As jy nie kan uithou nie en ook nie kan aanhou nie, sal jy nie in staat wees om die wedloop klaar te maak nie.

Gesels  ʼn mens met een van die ervare Comrades atlete, sê hulle vir jou dat  ʼn baie groot deel van so  ʼn wedloop met jou ingesteldheid te doen het. Al is jy hoe fiks, en al wil jy hoe graag begin hardloop, gaan dit op die ou end oor die uithou en die aanhou.

Met geloof werk dit net so.

Die Here leer ons deur sy apostel dat ons geloof verryk moet word. Om te sê jy is  ʼn gelowige, is byna soos om te sê jy is  ʼn atleet. Jy het dalk die gawe of talent om aan  ʼn maraton deel te neem, maar jy kan net die wenstreep bereik as jy begin doen. Jy moet begin hardloop! 

Ons het verlede week gehoor, dat dit met ons geloof dieselfde is.  Ons geloof moet verryk word met deugsaamheid. U onthou mos, deugsaamheid is iets soos ywer en aktiwiteit en toewyding.  En dan moet hierdie deugsaamheid verryk word met kennis. Ons moet ons ywerige en toegewyde geloofsdade verder koers en rigting gee met wyse beplanning. Ja, dan gebeur daar iets op ons geloofspad.

 ʼn Mens kan dit nog weer vergelyk met  ʼn maraton. Benewens die feit dat die atleet moet begin om met ywer en oorgawe te hardloop, moet hy ook kennis hê.  Hy moet die wedloop met wysheid beplan en dan met kundigheid aanpak anders sal hy dit nie kan voltooi nie.

Maar dan is daar  ook  ʼn mens se ingesteldheid.

1.   ʼn POSITIEWE INGESTELDHEID IS BELANGRIK

As jy so  ʼn maraton met  ʼn negatiewe ingesteldheid begin, sal jy dit nooit kan klaarmaak nie.  Jou ingesteldheid kan beskryf word as jou innerlike ordening.  Dit is soos om troepe tydens  ʼn militêre parade in die regte orde te plaas.  Alles moet in lyn wees.

As jy nie reg ingestel is nie, sal al jou vrese en jou voorbehoude jou gedagtes tot so  ʼn mate oorheers dat jy langs die pad deur moedeloosheid oorweldig word.

Baie mense maak die fout om die geloofswedloop met  ʼn verkeerde ingesteldheid aan te pak. Hulle laat toe dat hulle aandag verdeel word deur ander mense se negatiwiteit of skeefgetrekte sienings.   

As ek en jy suksesvol aan die geloofswedloop deelneem, moet ons ingesteldheid reg wees.  Ons gedagtes moet in lyn wees. En ons oë moet op ons Here Jesus Christus gerig wees!

Die Hebreërskrywer sê:  ......laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof (Heb. 12:1 en 2)

Verstaan u?  Dit het uiteindelik alles met selfdissipline te doen. En selfdissipline gaan oor uithou en aanhou. 

 

2.  SELFBEHEERSING GAAN OOR UITHOU EN VRA VIR EERLIKHEID

In so  ʼn wedloop raak jy deeglik bewus van jou eie tekortkominge.  Jy weet waar die pyne ontstaan en jy weet hoe graag jy sal wil rus. Jy is dors en moeg. Dan kom die verleiding om te veel water te drink of te gaan sit.

In Kolossense 3  waarsku die apostel Paulus sy lesers teen die verleiding van die ou lewe. Hy sê julle is nuwe mense wat saam met Christus uit die dood opgewek is:  Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodery is (Kol 3:5).

As gelowiges wat aan die wedloop van die geloof deelneem, moet ons selfdissipline toepas. Ons moet uithou om nie aan die sondige begeertes toe te gee nie.  In Gal 5 lees ons:  Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar (Gal 5:17).

As gelowiges moet ons eerlik wees oor die dinge in ons lewe wat ons sondige natuur begeer. Ons moet eerlik ons sondes kan bely en ons bekeer!  Ons moet kan uithou teen die begeertes van ons sondige natuur.  Ons moet kan weerstand bied teen die verleiding van die wêreld en ook staande kan bly teen die versoekings van die satan!

Maar die vraag is: Hoe kry ek dit reg om weerstand te bied teen al die verleiding?  Hoe kry ek dit reg om vas te staan teen die begeertes van my sondige natuur?

Die antwoord is:  Laat die Heilige Gees jou lei!  Selfbeheersing is deel van die vrug van die Gees!  En die Here het belowe dat Hy sy Gees sal gee aan diegene wat daarvoor in gebed vra.

Die Heilige Gees stel ons in staat om te kan uithou.  Om selfbeheersing te kan toepas.

Maar dan gaan die apostel Petrus verder en sê dat ons in ons geloofslewe ons selfbeheersing moet verryk met volharding.

 

3.  VOLHARDING IS DIE MOED OM TE KAN AANHOU

Om as gelowige in  ʼn wêreld te leef waar die satan rondloop en soek wie hy kan verslind en waar dit donker is van die sonde kan  ʼn mens maklik moedeloos word.  En as jy moedeloos is, kan jy baie moeilik aanhou.

Veral deesdae is daar soveel dinge wat nie reg is nie. Ons paaie, dienslewering, politieke leiers wat met korrupsie en leuens op selfverryking ingestel is.  Dit alles skilder  ʼn donker prent waarteen jy daagliks vaskyk.

En in  ʼn mens se persoonlike geloofslewe is daar ook dinge wat soms net nie wil regkom nie. Verhoudings wat kort-kort skeefloop.  ʼn Mens se persoonlike geloof wat in  ʼn sleurgang verval.  Mede-gelowiges wat jou teleurstel. Soms loop alles net skeef.

Ja, en dan bid  ʼn mens, soms vir maande en selfs jare, maar dit lyk nie of die Here jou gebed wil benatwoord nie.  Dan wil jy hande in die lug gooi en langs die pad gaan sit.

Die vraag is: Hoe kry  ʼn mens dit reg om in die geloof te volhard? Hoe kry jy dit reg om aan te hou?

Die antwoord is:  Hou jou oë op ons Here Jesus Christus!

Dink net wat het Hy alles deurgemaak?  Hy wat self God is en in die ewige heerlikheid woon, het na hierdie aarde gekom en  ʼn mens kom word. Hy het in ons ellende kom instap. Die satan het hom versoek; Hy het honger geword; Hy het koud gekry; Hy het hartseer geword; Hy het kwaad geword.  Hy het  ʼn dienskneg geword – sy dissipels se voete gewas.  Hy het aan die kruis gesterf.....

Uiteindelik het Hy die sonde, die satan en die dood oorwin!

Die Hebreërskrywer sê:  Hou Hom voor oë wat so  ʼn vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie (Heb. 12:3) 

SLOT

Geloof wat werk is geloof wat met selfdissipline verryk word.  Selfdissipline gaan oor uithou en aanhou. 

Ons moet uithou teen die versoeking van die satan, teen die verleiding van die wêreld en die begeertes van ons sondige natuur. Dit kan ons doen deur die Heilige Gees wat ons selfbeheersing gee.

Verder moet ons aanhou op ons geloofspad. Soms is die opdraandes steil en die ellende wil ons oorweldig, maar as ons ons oë op ons Here Jesus gevestig hou, kan ons aanhou en sal ons die wedloop voltooi en die oorwinnaarskroon ontvang.

                                                                   AMEN.

<< Start < Prev 1 2 3 4 Next > End >>
Page 4 of 4

Soek